|
Die eerste uithourit was gehou as gevolg van 'n debat in die tydskrif Landbou Weekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het. In 1964 het die Landbou Weekblad 'n uithourit georganiseer om die saak te besleg. 'n Uithourit is gereël vanaf Hanover oor te Aar, na Richmond en terug na Hanover. In daardie dae was daar nie veeartse wat die perde ondersoek het, soos deesdae verpligtend is nie. Die rit was 'n groot sukses, en die Arabierperd het as wenner uit die stryd getree. In 1965 was daar chaos. Na afloop van die uithourit is baie van die deelnemende perde vergiftig, vermoedelik deur persone wat nie die rit goedgesind was nie. Ongeveer sestig perde het gevrek. Die volgende uithourit was in 1973 op Fauresmith. Die area en temperatuur leen hom uistekend tot die rit. Gedurende die 1973 uithourit het sewentien ruiters deelgeneem. Die getal het intussen gegroei na tussen 250 en 300 ruiters wat jaarliks deelneem. Na afloop van elke 25km, het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei, waarna hulle deur veeartse ondersoek word. Hartklop en spiere word nagegaan, en perde wat ooreis is word gediskwalifiseer. "n Uitstekende voorbeeld van die kameraderie en sportmanskap tussen ruiters, was tydens die 2003 uithourit, toe Laura Woods, toe 'n Junior Springbok-ruiter, halfpad deur die rit gestop het om 'n ander deelnemer te help wat geval het. Die Fauresmith Internasionale Uithourit word as een van die moeilikste ter wêreld beskou. Dit is nie die moeilikste as gevolg van die afstand nie, maar aangesien persone op drie agtereenvolgende dae lang afstande moet aflê. Sommige ruiters staan selfs uurliks gedurende die yskoue winternag op om na hulle perde om te sien. Veteraan ruiters soos Ami de Wet, Claire Amm en Chris Thiel keer jaar na jaar terug om deel te neem aan hierdie uitmergelende uithourit.
|
Send mail to the Webmaster with questions or comments about
this web site.
|